Loading svg Please wait while we translate the article
Andi Maier. Foto Gravel Travel
Andi Maier. Foto Gravel Travel

Twee skuldig bevind aan toergids se moord

Derde beskuldigde vrygespreek
Toe Andi Maier in 2015 tot sy meisie se redding probeer kom het, het beide die beskuldigdes hom in die bors, maag, bobeen en rug gesteek.
Iréne-Mari van der Walt
Twee mans is skuldig bevind aan die moord op die bekende toergids Andi Maier, asook op die roof en ontvoering van Maier en sy meisie in 2015.

Een van die mans is ook skuldig bevind aan poging tot verkragting, terwyl ’n derde beskuldigde van alle aanklagte teen hom vrygespreek is.

Walter Lwendo Lupalwezi en Ndozi Ndozi het in Julie 2015 na die Mundumo Nasionale Park in die Zambezistreek gegaan en die tent oopgesny wat Maier en sy meisie gedeel het.

Hulle het daarna die paartjie beroof en hul hande agter hul rûe vasgebind. Die paartjie en die items wat hulle gesteel het, is daarna in die paartjie se voertuig gelaai.

Lupalwezi en Ndozi het met Maier en sy meisie gery tot die motor nie meer deur die digte bos kon beweeg nie. Hier het Lupalwezi Maier se meisie aangerand en probeer verkrag.

Toe Maier tot haar redding probeer kom het, het beide Lupalwezi en Ndozi hom in die bors, maag, bobeen en rug gesteek.

“Nadat hulle die oorledene erg gesteek het, het die beskuldigde die sakke uit die voertuig gelaai en die toneel verlaat,” het regter Herman January in sy uitspraak in die hoërhof in Oshakati gesê.

Maier se meisie het hom daarna in die motor gelaai om mediese hulp te kry.

“Ongelukkig het die motor in die sand vasgesit en die oorledene het intussen aan sy beserings beswyk,” lui January se uitspraak.

Sy het in camera getuig dat Maier aangedui het hoe sy moet ry om by die teerpad uit te kom en dat sy deurentyd met hom gepraat het om vas te stel of hy nog lewe, maar ná 5 minute het hy nie meer gereageer nie.

Maier se meisie het daarna gewag tot dit begin lig word het en ’n kombers om haar lyf gedraai aangesien haar sweetpakbroek tydens die struweling met Lupalwezi van haar lyf gesny is. Sy het na die polisie gestap om die voorval aan te meld.

Lupalwezi en Ndozi is glo deur die derde beskuldigde, wat vrygespreek is, Harris Kamuhelo Sijiwa, uit die park geneem en by die nedersettings naby Katima Mulilo afgelaai.

Dr. Oladimeji Akeem Akinyeni het die nadoodse ondersoek op Maier uitgevoer en tydens die verhoor getuig dat die mees noodlottige wond Maier se linkerlong binnegedring het.

“Die persoon kon oorleef het as hulle dadelik mediese hulp ontvang het,” lui die uitspraak.

Die polisie het die Maandag ná die voorval ’n Victorinox-mes en ’n trui wat aan Maier se meisie behoort het, in Lupalwezi se besit gevind.

KOAKOLAND

Die reisagentskap Gravel Travel beskryf Maier op sy webwerf as hul “mees geliefde toergids” en “’n fantastiese Koakoland-kenner”.

“Vir amper 20 jaar was hy deel van ons Gravel Travel-familie. Andi was ’n baie bekende gesig en hy het altyd die moeite gedoen om hierdie reis ’n onvergeetlike ervaring te maak.

“Hy het die buitelugkampe op hierdie roete bestuur en kulinêre genot uit die vuur opgedis en dit gekombineer met sy boeiende stories wat in ons geheue bly.

“Sy ervaring en kennis was ongelooflik en sy liefde vir die natuur was ’n diep passie. Andi rus by een van sy gunstelingplekke in Damaraland en hy word steeds geweldig gemis. Gravel Travel en die gaste wat gelukkig genoeg was om saam met hom te reis, sal hom nie vergeet nie,” luidens Gravel Travel se webblad.

[email protected]

Kommentar

Allgemeine Zeitung 2025-01-15

Zu diesem Artikel wurden keine Kommentare hinterlassen

Bitte melden Sie sich an, um einen Kommentar zu hinterlassen

Katima Mulilo: 19° | 31° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 16° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 15° | 30° Windhoek: 16° | 29° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 20° | 35° Keetmanshoop: 17° | 34° Aranos: 20° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 16° | 34° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 15° | 18° Maseru: 12° | 29° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 20° | 24° Maputo: 19° | 27° Windhoek: 16° | 29° Cape Town: 16° | 22° Durban: 17° | 23° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!