Loading svg Please wait while we translate the article

Vereistes vir die vervoer van vee

Dieregesondheidswet
'n Bewegingspermit word vereis vir die vervoer van enige voorgeskrewe dier vanaf 'n geregistreerde plaas of plot.
Francoise Steynberg
Adv. Peet Harmse – Apart van die brand van vee soos bedoel in die Wet op Veebrandmerke van 1995, wat ’n tyd gelede in Agri Law bespreek is, is die identifikasie van vee soos bedoel in die Dieregesondheidswet van 2011 rakende die vervoer of beweging van vee ook belangrik.

Volgens die lang titel van die dieregesondheidswet het dit ten doel om voorsiening te maak vir die voorkoming, opsporing en beheer van dieresiektes; die onderhoud en verbetering van dieregesondheid; en verbandhoudende aangeleenthede.

Die hoofveeartsenybeampte in die landbouministerie is verantwoordelik vir die administrasie van die

dieregesondheidswet en oefen sy/haar bevoegdhede uit en verrig sy/haar funksies kragtens daardie wet uit, onderhewig aan die beheer en opdragte van die minister. Die hoofveeartsenybeampte word bygestaan deur veeartsenybeamptes, aangestel deur die minister op sy/haar aanbeveling. Die minister mag ook op aanbeveling van die hoofveeartsenybeampte sekere persone skrifelik magtig om die bevoegdhede uit te oefen en funksies te verrig wat in die magtiging vermeld word.



VERVOER VAN VOORGESKREWE DIERE

Artikel 25 van die dieregesondheidswet vereis ’n bewegingspermit vir die vervoer van enige voorgeskrewe dier vanaf ’n geregistreerde inrigting (plaas of plot). ’n Persoon mag nie enige voorgeskrewe dier verwyder vanaf ’n plaas of plot na enige ander plek in Namibië nie, tensy die persoon in besit is van ’n permit wat sodanige beweging van die dier magtig, en die beweging uitgevoer word in ooreenstemming met die voorgeskrewe voorwaardes en soos gespesifiseer in die permit nie.

’n Voorgeskrewe dier is ’n dier gelys in aanhangsel 1 van die diere-identifikasieregulasies of verklaar as ’n voorgeskrewe dier kragtens die dieregesondheidswet. Volgens aanhangsel 1 is ’n bees, skaap, bok en vark ’n voorgeskrewe dier.

Ten spyte daarvan dat ’n bewegingspermit die vervoer van ’n voorgeskrewe dier daarin gespesifiseer magtig, mag ’n persoon nie sodanige dier vervoer vanaf die betrokke plaas of plot nie indien:

– die persoon weet of rede het om te glo dat die dier besmet is met ’n siekte of ’n aansteeklike middel huisves; en;

– die permit nie spesifiek die vervoer van die besmette dier magtig nie.

’n Bewegingspermit magtig die vervoer van enige gespesifiseerde voorgeskrewe dier net binne die periode gespesifiseer in die permit. Addisioneel tot enige permitvoorwaarde wat by regulasie ten opsigte van ’n bewegingspermit voorgeskryf mag word, mag ’n veeartsenybeampte voorwaardes spesifiseer waaraan die houer van daardie permit moet voldoen, soos:

– die identifikasie, inspeksie, toets of behandeling van die betrokker dier te enige tyd voor, gedurende of na die vervoer;

– die isolasie van die dier te enige tyd voor, gedurende of na die vervoer;

– die kwarantyn van die dier voor of na die vervoer;

– die sertifisering van enige aspek van die identiteit, gesondheidstatus, oorsprong of geskiedenis van die dier wat vervoer word.

Enige voorgeskrewe dier ten opsigte waarvan ’n bewegingspermit uitgereik is:

– mag nie vervoer word deur enige besmette gebied of gebied wat vermoed word besmet is met enige siekte wat die dier wat vervoer word kan besmet nie;

– moet indien so vereis word, by die bestemming beskikbaar gemaak word aan ’n veeartesenybeampte vir inspeksie of die uitvoering van enige funksie kragtens die dieregesondheidwet of enige vereiste van ’n voorwaarde waaraan die permit onderhewig is.



REGISTERS EN OPGAWES

’n Persoon wat ’n voorgeskrewe dier aanhou, oppas of hanteer op ’n plaas of plot moet registers byhou en inligting aanteken en die hoofveeartsenybeampte voorsien van opgawes wat inligting verskaf ten opsigte van die geboorte, dood, verlies en beweging van die dier op of vanaf die plaas of plot soos by regulasie voorgeskryf. Geen valse of onwaar inligting mag in ’n register of opgawe vervat word nie.

’n Persoon mag nie ’n voorgeskrewe dier:

– aanhou of sorg of toelaat dat die dier aangehou word op ’n plaas of plot;

– vervoer of sorg of toelaat dat dit vervoer word vanaf ’n plaas of plot;

– ontvang of sorg of toelaat dat dit ontvang word op ’n plaas of plot vir enige ander doel as om dit aan te hou nie;

– by wyse van ’n voertuig, vaartuig of vliegtuig of andersins vervoer of sorg of toelaat dat dit vervoer word nie op enige pad of enige ander plek wat nie die geregistreerde establishment is nie, tensy die dier duidelik geïdentifiseer is op die voorgeskrewe manier deur middel van ’n merk, plaatjie, transpondeerder of ander aanwyser (’n toestel) goedgekeur deur die hoofveeartsenybeampte vir die doel om die eienaarskap, oorsprong, ligging, bewegingsgeskiedenis en lot van die dier vas te stel nie. Behalwe ’n veaartsenybeampte of ’n veearts, mag geen persoon ’n goedgekeurde toestel verwyder of vervang wat aangebring is op ’n lewende voorgeskrewe dier vir doeleindes van die dieregesondheidswet nie. ’n Persoon mag ook nie die inligting op sodanige toestel wysig, uitwis of dit skend nie.

Dit blyk volgens die regulasies dat die identifisering van ’n voorgeskrewe dier gemaak moet word deur middel van ’n goedgekeurde toestel wat geheg of aangebring word aan die dier deur die eienaar of onder die toesig van ’n veeartsenybeampte en die goedgekeurde toestel ’n oorplaatjie is.

Agri Law sal later fokus op die vereistes vir ’n oorplaatjie en die inligting wat daarop moet verskyn.

[email protected]

Kommentar

Allgemeine Zeitung 2024-12-26

Zu diesem Artikel wurden keine Kommentare hinterlassen

Bitte melden Sie sich an, um einen Kommentar zu hinterlassen

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!